Bondige Indrukke van ‘n Keltiese Pelgrimstog

Ek moet miskien begin deur iets te sê oor die rede vir die pelgrimstog, omdat dit heelwat te make het met ons ervaring daarvan.  Ek loop al ’n lang pad met pelgrimstogte, wat begin het toe ek in 2003 die Camino gaan stap het en ’n behoorlike beslag gekry het toe ons gesin vier jaar terug Ortodoks geword het.  

Ons het gou besef dat die skat van die antieke Oosterse Christelike Kerk aan Afrikaners bekend gestel moet word en dat ons iets daarmee te doen moet hê.  Agter hierdie idee aan het ons ’n pelgrimstog die onbekende in begin loop, wat tot ander pelgrimstogte gelei het; en nou na die Britse eilande.

Om ’n paar redes: Die Kelte se kerk was Ortodoks.  Die Keltiese kerke is grootliks uitgewis deur die Vikings en wat oor was is uiteindelik oorgeneem deur die Katolieke kerk.  En vandag is daar ’n monnik wat die eerste keer in meer as ’n duisend jaar weer ’n Keltiese klooster wil vestig.

Behalwe vir ’n ingewing dat só ’n pelgrimstog op sigself betekenisvol sou wees, het dit nie veel verbeelding geverg om te besef dat ons iets sou kon leer by ’n monnik wat op ’n grootliks onbewoonde, afgesonderde en sekulêre eiland ’n klooster wil oprig nie.

Dis die agtergrond.  

Wat ons indrukke betref, moet mens begin deur te sê dat waarskynlik die grootste deel van wat ons ervaar en besef het, onsegbaar is.  Wat op die keper seker te verstane is: Ons almal kom van oorsee af terug en wys die kiekies en vertel desperaat hoe wonderlik dit was.  Maar selfs terwyl ons vertel weet ons dat ons nie aan die toehoorders kan oordra hóé wonderlik dit was nie, dat die fyn net van die woord net die grootste visse kan vang – en selfs dit meesal nie doen nie.

Maar dis ook in lyn met ons ervaring van die Ortodoksie, met sy klem op die misterieuse God en die mistieke belewing van die verhouding met Hom.  Dus: Wat het God ons op die pelgrimstog geleer?  Hoe het die ervaring ons verander?  Hoe presies is ons gedagtes beweeg, ons perspektief geskuif?  Ek sê wat ek kan, maar weet dat daar van die grootste visse ontsnap het. 

Die Kelte is waarskynlik oorspronklik afkomstig uit die gebied rondom Oostenryk en het vandaar versprei na onder andere die Iberiese skiereiland, waar hulle in kontak gekom het met die Midde-Oosterse en veral die Egiptiese monastiese beweging en spiritualiteit.  Hierdie spiritualiteit het hulle saamgeneem na Ierland en later na Skotland.

Dié spiritualiteit is een van die woestyn en die wildernis – van stroping, inkering en stilte.  En dis wat my eerste getref het toe ek op Iona aanland: In teenstelling met die Tuinroete-op-steroïede-landskap van Skotland en die Isle of Mull (waar ons gebaseer was), is Iona plat en die omgewing herinner aan ons Weskus.  Dis vlak en bar en die plantegroei klou om te oorleef.


\\Mac\Dropbox\Werksdokumente\2017 REIS\KLEIN FOTOS OOR 2017\20170622_111054.jpg

Die huis op die Isle of Mull, waar ons gebaseer was.


Iona van die see af.


\\Mac\Dropbox\Werksdokumente\2017 REIS\KLEIN FOTOS OOR 2017\20170620_110524.jpg

Iona klooster van die see af, met die huisies van die dorpie in die voorgrond.


Jy kry die idee van ’n onherbergsaamheid, waar dinge gestroop word en oorlewing ’n stryd is wat min ruimte laat vir luukse en vrugbaarheid.

Maar juis in hierdie stil ongenaakbaarheid het mense kom woon en kom soek na God se eenvoudige liefde wat sigbaar word aan die ander kant van die stroping wat deur askese bewerk word.  

Mens kom ook diep onder die indruk van die broosheid van die lewe daar.  Iona se kloostergemeenskap is gevestig in 563 en ná die tweede Viking strooptog in 856, waarin die monnike (weer) sonder weerstand uitgemoor is, het hulle terug gegaan Ierland toe (en terloops die Book of Kells, wat sy oorsprong hier gehad het, saam geneem).

Dis ’n indruk wat bevestig is deur ons rondloop op die Martyr’s Bay, waar die Vikings in 806 ’n groep van 68 monnike op die strand vermoor het; en weer op die White Strand of the Monks, waar die Vikings tydens ’n volgende strooptog ’n groep monnike vermoor het, waarna die klooster afgebrand is.  Dit het my herinner aan die broosheid van die Christelike geloof aan die Suidpunt van Afrika; en spesifiek van die Ortodokse geloof, wat bestaan uit ’n handjievol mense.


\\Mac\Dropbox\Werksdokumente\2017 REIS\KLEIN FOTOS OOR 2017\20170620_152800.jpg

Die White Strand of the Monks


Die indruk van ’n geloof wat in broosheid vasklou teen die elemente is een wat ons telkens teëgekom het op die plekke waar ons besoek het.  Op St. Brendan’s Isle, ’n piepklein eilandjie waar die eerste Keltiese klooster in Skotland gevestig is, het ’n groepie van ongeveer 20 monnikke hulleself gevestig, ’n kerkie, ’n skaapkraal en ’n huisie of twee gebou en daar geleef, geboer en gebid.  Dieselfde geld die gemeenskappie op Inchkenneth, nog ’n klein eilandjie wat ons per seilboot besoek het.  Hier bly net die ruïne van ’n kerkie van ongeveer 10 by 4 meter oor, ’n klein begraafplasie en ’n kluisenaar se grot, effens toegebou teen die elemente.


\\Mac\Dropbox\Werksdokumente\2017 REIS\KLEIN FOTOS OOR 2017\L1040178.JPG

Inchkenneth se kerkie en begraafplasie.


Nog iets wat mens tref, is die passie wat nodig moes wees om hierdie lewe aan te pak en vol te hou.  En dis nie die passie van vandag, wat met begeerte of doelgerigtheid gelyk gestel kan word nie.  Dis Christus se passie, wat mense roep om te kom sterf sodat hulle en die wêreld vir wie hulle sonder ophou gebid het, kan leef.

In die Keltiese geskrifte is gepraat van drie soorte martelaarskap: rooi, groen en wit.  Rooi martelaarskap se betekenis lê voor die hand: dié wat hulle lewe afgelê het vir hulle geloof.  Groen martelaarskap bedui hulle wat as kluisenaars of in klein groepies in die wildernis – tipies op die plekke wat ons besoek het – gaan afsonder het om die gewone lewe voor God af te lê.

En die wit martelaarskap? Dit blyk uit die volgende aanhaling van ’n skrywer oor die Heilige Columba (ook bekend as Columcille), wat die klooster op Iona begin het:

“[H]enceforth all who followed Columcille’s lead were called to the white martyrdom, they who sailed into the white sky of morning, into the unknown, never to return.”

Wat ons eie pelgrimstog betref, het ons essensieël dít geleer van Vader Seraphim, die monnik wat probeer om die eerste Keltiese klooster in meer as ’n millenium weer in Skotland te vestig: neem ’n treetjie die donker in.  Voel dan waar jy is.  Kyk wat die situasie jou noop om te doen.  Luister.  En as jy iets hoor, neem weer ’n treetjie.  Versigtig.  Nederig.

Want met die loop agter God aan is daar geen strategiese beplanning te doen nie, geen GPS wat jou kan sê waarheen jy behoort te mik nie en ook geen sekerhede nie.  Nee: Dis waarlik ’n pelgrimstog, ’n wit martelaarskap die wit lug van die môre in, agter die roepstem van Christus aan.


\\Mac\Dropbox\Werksdokumente\2017 REIS\KLEIN FOTOS OOR 2017\iona-stcolumbasbay-2007pano.jpg

St Columba’s Bay, Iona